Blog
Die 4 fases van ‘n vrou se siklus
Die menstruasie-siklus vind plaas om ‘n vrou se liggaam vir moontlike bevrugting en swangerskap voor te berei. Die siklus (dag 1 van bloeding tot dag 1 van die volgende bloeding) neem ongeveer 28 dae (nes die maan….soos in die benaming maandstonde) om te voltooi, alhoewel dit kan wissel van 21 tot 35 dae. Die endometrium (binne-voering) van die baarmoeder gaan deur vier stadiums of fases tydens die menstruasie-siklus:
- Die Menstruasie fase:
Die endometrium (die binne-wand van jou baarmoeder) neem ‘n paar dae om bietjie vir bietjie los te kom. Dit verlaat die liggaam in die vorm van bloedvloei. Hierdie vloei van bloed word menstruasie / maandstonde genoem. Net jou heel eerste menstruasie word menarg genoem. Dis dan waarvoor ons Zoë boks saamgestel is.
Die menstruasie bloed is ‘n mengsel van bloed en weefsel en sal om hierdie rede dan soms dikker wees as die bloed in jou are. En ja, dit is absoluut normaal.
Hierdie fase duur gewoonlik tussen 3 en 5 dae, alhoewel enige iets tussen 2 en 7 dae word nog gesien as normaal.
2. Die Herstelfase of Follikulêre fase:

Net na haar Menstruasie fase, styg haar Estrogeen vlakke, wat haar endometrium (basies ‘n nuwe baarmoeder wand) laat groei en verdik. Terselfdertyd groei daar follikels (haartjies) in haar ovariums, en tussen dag 10 en 14 skei een van die twee ovariums ‘n volgroeide eiersel vry. Die vrystelling van die eiersel word ovulasie genoem, en party meisies en vrouens merk dit op deur ‘n witterige afskeiding rondom dag 14. Sommiges sien ook klein bietjie bloederigheid saam met hierdie eiersel (hierdie bloederigheid word “spotting” genoem), en volgens Ginekoloë is dit normaal.
3. Die Ontvangsfase:
Tydens ovulasie kan een van twee dinge gebeur. Die eiersel wat gevorm is in die 2e fase, kan bevrug word: Die baarmoeder ontwikkel mos die dikker wand, aka die regte toestand om ‘n bevrugte eiersel te kan ontvang. Indien die eiersel met ‘n spermsel, van die manlike geslag, bevrug is, sal dit binne die baarmoederwand inplant en swangerskap sal begin, aka lewe word gevorm.
Indien daar nie bevrugting plaasvind nie, sal die eierselletjie afgeskei word, soos genoem in fase 2, en sal die baarmoederwand dan aanbeweeg na fase 4.
4. Die Pre-Menstruasie fase:
Indien die eiersel nie bevrug word nie, sal estrogeen en progesteroon vlakke daal (dit kan daai welbekende “PMS” emosies veroorsaak), wat die verdikte baarmoederwand weer laat begin loskom, totdat dit oorspoel in fase 1 in en die hele siklus haarself herhaal.