Menstruele Siklus, Ontwikkeling, Voorbereiding, Vrae oor Menstruasie

❓”Wanneer begin dogtertjies deesdae ontwikkel? En wat is die vroegste ouderdom vir ‘n dogtertjie om te begin ontwikkel?

👉Gelukkig is dogtertjies deesdae baie opgewonde om te begin bra dra. Daar is gemaklike en pragtige opsies, en hulle sal sommer lank voor daar enige tekens van ‘n borsknoppie is, al vra vir ‘n bra. Kyk maar net die fliek “Are You There God? It’s Me, Margaret”.

Meisies begin tipies tekens van puberteit toon tussen die ouderdomme van 8 en 14 jaar, met die gemiddelde ouderdom tussen 10 of 11 jaar.

Tekens van ontwikkeling kan borsknoppies, die groei van skaamhare of onderarm hare en ‘n toename in hoogte insluit.

Daar is egter sommige meisies wat so vroeg as 7 jaar oud of selfs vroeër begin ontwikkel.

As jy tekens van puberteit op ‘n baie jong ouderdom by jou dogter opmerk, is dit ‘n goeie idee om met haar Pediater te gesels net om seker te maak dat haar ontwikkeling binne die normale omvang is en om enige bekommernisse wat jy mag hê te bespreek. Baie vroeë puberteit, maar veral baie vroeë menarg (eerste bloeding) kan soms met onderliggende mediese toestande geassosieer word, en later in haar lewe negatiewe gevolge hê, so vra eerder betyds.

Doen wel jou navorsing behoorlik en vra God om jou te ly om die regte hulp te kry en die beste besluite te maak voor jy net halsoorkop en in ‘n paniek in ‘n rigting inslaan en ‘n eerste opinie se raad volg. Mens voel soms uitgelewer as dit kom by jou kind. Jy wil nie ‘n fout maak nie, en daar moet ook niks slegs met hulle gebeur nie.

Maar ons kan onthou dat hulle God se kinders is, meer as wat hulle ons s’n is.
En die belangrikste is om liefde, ondersteuning, veiligheid en inligting te bied in ‘n tyd waar daar veranderinge in haar lyf en lewe is en sy dit ekstra nodig het.